Archive for June, 2008
Kursus vir natuur liefhebbers. Kursus dek dieridentifikasie, klassifikasie en gedrag, spoorsny, voëls, bome, natuur fotografie en bos noodhulp. Min 8 persone, maks 12. 2 etes per dag en akkommodasie ingesluit. Kry groep bymekaar van 10 + uself en doen kursus gratis. R1995 p/p. Kontak my vir meer besonderhede 0832430304 of epos mhimbibs
This post was submitted by Hunter.
Dit is nou verby …..
Dit het ek nou in die familie. Ek is oortuig daarvan ons het siek geraak na ons griep inspuitings, wel ek weet dit vir ‘n feit. Ons wat by die Cliks kliniek, griep inspuitings gekry, en die volgende dag het dit begin. Loopneus en die hoes. Die hoes wat by my spook in die nag… Elke dokter op die planeet is natuurlik oortuig dat dit net toevallig is, maar hoekom dan vir al drie van ons wat die dag daar was? En kyk na die datum, sedert 10 Maart tot 26 Junie. Hoe lank nog? Ek is moedeloos met die vreeslike hoes. Die toetrek van die keel, die blou lippies, die wheeze in die aande waar ek langs my kinders wakker le en wonder hoe benoud hulle is. Die pediater my Wilgeheuwel sê dit is maar soos dit is, daar is niks wat ek daaraan kan doen nie. Daar is niks om te gee nie, daar is geen medikasie nie. Niks verlig dit nie. Nou is ons al op medikasie vir asma, net om dit in die nag beter te maak, maar NIKS. Die medisie het gefaal, het my gefaal, vir die oomblik. Ek glo daar moet iemand wees wat die bydrae sal lees en met die oplossing sal kom. Wat die pad geloop het en wat weet hoe om ‘n einde aan die drie maande van hoes kan sit.
My seuntjie van twee is nou aan die wheeze, my dogtertjie is nou-net daardeur. Ek het dit ook, maar ek kan dit nog hanteer. Hy hoes saans van benoudheid en wil net teen my wees. My dogtertjie hoes haarself wakker, en vra dan net vir mammie. Drie maande, elke aand, wakker, min slaap. Die Rife masjien het nie gewerk nie. Die homeopaat in Krugersdorp het sy beste gegee, maar na twee weke en amper 5 besoeke is daar geen verbetering gewees nie. Stuur my na die oplossing toe. Ek pos die briefe, jy sal dit raaklees en my inlig en so deel ons dit met die ander honderde ma’s daarbuite wat nie dieselfde pad hoef te loop nie.
Kinkhoes, jou blik maak my gek
Jou benoude bokkasie van my lugweg,
wat my hulpeloos na asem laat vra
Weg met jou, jou aankoms en jou vertoef
soek ek nie hier,
jy is my kinders se plesier boef!
uit ons lewens uit,
dit is waar ons jou wil hê,
loop lê in die sloot,
saam kannie – reeds lankal vir ons dood.
Ek het my hande op jul gelê
Want God het dit gesê
More is julle genees,
In heel, hart, siel en vlees.
My kinders is my lewe,
myne is lankal niet
vir hulle sal ek die wereld deurkruis,
my hart uit giet.
Vir hulle gee ek alles en nog meer,
ek dank God vir my kinders,
wat my soveel van my lewe leer.
En al die positiewe energie
alles wat goed is wil ek met julle deel
As mens dit deel, word dit meer
en dan kan jy maklik uit oorvloed ook gee.
Die beste ding voorwaar wat met my kan gebeur: Julle twee!
Dankie Here vir die ritme wat my hart kan klop,
as ek aan my kinders dink met hart en siel en kop.
Dankie vir elke oomblik, glimlag en blinkoog sonnestraal,
wat hulle vir my gee om my lewe van droefheid in vreugde oor te taal.
Dankie God – uit U grootheid het ek sin gevind
dit in die oë van ‘n kleine kind.
Vir niks kan mens dit ooit verruil
net elke dag ‘n “dankie” deur die lewe laat weerklink
ek het God in die kinders gevind!!
(c) Vlooi 2008
Ek het nou besluit dit is ek wat te dom is. Met die doop van my broer se dogtertjie in Volksrust, het ek – nog voor die diens begin het – die kerk verlaat. Met kinders 2 en 3 en ‘n half aan die gil. Weereens seker my generasie X. Gelukkig het my man my gered, en die oppas sessie buite oorgeneem. Ek kon dus rustig in stilte – met die een oor op die dominee gerig en die ander een op die stemme agter my in die kerkbanke – die diens meemaak. Nou-ja, toe kry ek dit: Geen dissipline nie, jy kan sien wie kom nooit in die kerk nie. Ag en toe is die preek amperjies verlore vir my omdat ek toe eers weer aan my selfbeeld moes werk. Wat sal ek doen?
My dogtertjie (drie en ‘n half) weet alles. Beredeneer my en verduidlik vir my dat sy nog klein is en daarom moet ek vir haar askies sê as ek dalkies waag om my stem te verhef. Ek maak glo haar ore seer …. wat natuurlik geecho word deur my twee jarige seuntjie, wat:” Mammie, ore seermaak, myne ok”. Nou-ja, wat kan ek daarop antwoord:”Skuldig soos aangekla deur die mond van die suigeling”. Advies asb, wat moet ek doen?
As jy nog daardie ou jare se term dalkies iewers kan onthou wat iets met “…sielkunde” en pre-1994 te make het, gee my advies op die een, want ek is nou te dom. My sielkundige opvoeding laat veel te wense, dit werk nie meer nie.
Hulle kom met die oulikste, dog snaakste goed vorendag. Deel jou wysneusies se IK en wys my jy is ook dom, dat ek nie alleen in die gemors is nie. Daar is seker 21 maniere om jou ma of pa (wat deesdae sommer op die naam genoem word) te verduidelik (want dit is nie meer ompraat nie) waarom hulle nou dadelik die swaai moet kom maak, die hase moet vang, die badwater moet intap, die rekenaar moet aansit, dit DVD speler moet aansit (dit is nou as die afstandbeheer bietjie te hoog is, anders doen ons dit sommer self) en wie weet wat nog alles. Ek kan oor niks meer “jok” nie. As ek reken die vrugtesap is klaar, dan antwoord meneer van twee, :”isnie, mammie jok. Nog, myne sinne”… met die yskasdeur wat oopvlieg. Wel, hy is seker reg, dit is dan maar seker syne sinne wat daar op die rak staan.
Dit is amptelik my eerste vakansie saam my kinders, jip, hulle is so maand of wat vir die eerste keer skool toe, so nou ervaar ek ook ‘n vakansie, noudat ek 35 is. Ons het vanag na die Lipizzaners gaan kyk, dit was goed! Probeer dit gerus. http://www.lipizzaner.co.za Elke Sodag om 10:30 in Jhb.

Nou nie dat die ander mense dit juis geniet het nie, want die generasie X was daar met hulle kinders, wat alles kry wat die ouers nie gehad het nie. Dit sluit in onder andere die vryheid om te skree, te eis en dit met ‘n volumeknoppie wat nie regtig werk as dit by die verstelling daarvan kom nie. Ag tog, as ek maar in Oudshoorn was kon ek my kop in die sand inploeg, maar nee, ek moes maar die rooi wange uitstaan en ‘n ou glimlaggie uit die huisgenoot opplak … of is dit ou uit Dr Phil se middag praatjie vir mammas wat nie ‘n ander kanaal raakdruk nie …
Nou-ja. More is ek tuis, gaan die wasgoed doen, en sorg dat al die speelgoed uitgegooi word vir die ‘vakansie’ wat voorle! Hoera!! Dit is vakansie, ek hou jou op hoogte van my lyding. Wat gaan jy met jou kinders doen? Wat is daar om te doen waar jy bly? Bly ek op so ‘n aardige aaklige plek, is daar nie dalk ‘n ander hemel in RSA nie?
Is jy ook met die maan gepla? Wel ek glo ek is, daarom is ek seker. Die probleem is net dat ek nie besef dit is alweer die maan se skuld nie, wel, tot na die groot katterige sessie en as die melk reeds lankal op is. Soos ek die kombuisdeur sluit en wonder waarom alles deesdae (een keer ‘n nou-en-dan) so anders is, wel dan loer die maan met haar een oog vir my: “nag Zantippie, dis net ek hier”.
As dit nie die huis is nie, is dit die winter en die tuin. Asof dit nie genoeg is nie, kom die inhoud van kaste tot op die gesprek-spyskaart. Wat is die volgende opsie? Sal ons gesels oor pakplek, die komposhoop? Wat kan daar nog wees wat nie na die maan se sin is nie.
Dit was lekker om vanaand bietjie aan die site te werk, alhoewel ek nog steeds ploeter om dinge te kry omte werk soos ek dit graag wil he. Die resepte is op!! Nou kan ons weer begin soek en krap en dinge oplaai vir almal wat oorsee sit en nie plek in hulle tasse vir die resepteboeke gehad het nie.
Kyk maar na die webwerf, as daar dinge is wat anders moet wees, wel lig my in. Min mense glo aan positiewe kritiek, want kritiek is kritiek, maar ek sien dit anders. Bydraes maak dinge net beter, sodat dit makliker werk vir almal.
Geniet die nuwe vlooi!!
Byt-byt
Varktjops met heerlikste sous – Gerbrecht vd Vyver
6 groot varktjops
1/2 kop blatjang – “chutney”
Bietjie knoffel
1 kop kookwater
1/2 kop mayonnaise
1/2 kop tamatiesous
1 pakkie bruinuiesoppoeier
Braai tjops goudbruin aan beide kante. Meng die sousbestanddele en gooi oor die tjops wat in ‘n oondvaste skottel gesit is, sit foelie oor en bak vir 1 uur in die oond. Bedien met rys en gemengde groente.
Tunatert – Gerbrecht vd Vyver
150 g Skyfies (Kaas en uie geur)
2 Blikkies Tuna
1 Blik Sampioenroomsop
2 Geklitste eiers
Baie Kaas (Omtrent 1 Koppie gerasper)
Breek die skyfies fyn, vlok Tuna, en voeg sop, eiers en kaas by. Meng alles goed en bak in die oond vir ongeveer 1 uur by 180ºC. (Ek braai gewoonlik bietjie fyn gekapte uie en voeg ook 1 eetlepel Mayonaisse en pietersielie by.)
